10. Die fondamente was van groot, duursame klippe, klippe van vyf meter en vier meter.
11. Bo-op was duursame klip, volgens maat gekap, en sederhout.
12. Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke, net soos die binneste voorhof van die huis van die Here en die voorportaal van die paleis.
13. Koning Salomo het die dienste bekom van Hiram van Tirus.
14. Hiram was die seun van 'n weduwee uit die Naftalistam en sy pa was 'n Tiriër, 'n vakman in bronswerk. Hiram kon enige bronswerk met vaardigheid, insig en vernuf uitvoer. Hy het in diens van koning Salomo getree en alles gedoen wat dié hom opgedra het.
15. Hiram het die twee bronspilare gegiet, nege meter hoog en ses meter in die omtrek.
16. Hy het twee kapitele gemaak, in brons gegiet, om bo-op die pilare te sit. Elke kapiteel was twee en 'n half meter hoog.
17. Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare, sewe kettings aan elke kapiteel.
18. Dit is hoe hy die pilare gemaak het. Op elke rooster teen die kapitele het hy rondom twee rye granate aangebring.
19. Die kapitele bo-op die pilare by die voorportaal was in die vorm van blomkelke, twee meter hoog.
20. Aan die bokant van die kapitele op die pilare net waar die kelke dikker word, teen die kante van die roosters, was rondom twee honderd granate in rye.
21. Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas.
22. Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel.
23. Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog, en met 'n omtrek van vyftien meter.
24. Rondom onder die rand van die waterbak was twee rye kalbasse in reliëf, tien op elke halwe meter. Die kalbasse is saam met die waterbak in een stuk gegiet.
25. Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde gerig, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste. Die waterbak was bo-op hulle, en almal se agterkante was onder die bak in.
26. Die wande van die waterbak was sowat nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon vier en veertig kiloliter bevat.
27. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en 'n half meter hoog.
28. Die waentjies is soos volg gemaak:Hulle het sypanele gehad tussen die rame,
29. en op die sypanele en die rame was daar leeus, beeste en gerubs. Bokant en onderkant die leeus en die beeste was kransies in reliëf.
30. Elke waentjie het vier bronswiele gehad met brons-asse aan die vier voetstukke. Die waskom het gerus op staanders, gegiet met kransies aan die kante.