20. Elkeen het sy man verslaan. Die Arameërs het op die vlug geslaan, en die Israeliete het hulle agtervolg.Koning Ben-Hadad van Aram het te perd saam met 'n aantal ruiters weggekom.
21. Die koning van Israel het uit sy stad gekom en die ruitery en die strydwamag verslaan. So het hy vir Aram 'n groot slag toegedien.
22. Die profeet het weer by die koning van Israel gekom en vir hom gesê: “Gaan versterk u leër! Vra raad en dink goed na oor wat u doen, want vroeg volgende jaar val die koning van Aram u weer aan.”
23. Die raadgewers van die koning van Aram het intussen vir hom gesê: “Hulle gode is berggode en daarom was hulle sterker as ons. Ons moet hulle in die vlakte pak. Dan sal ons sterker wees as hulle.
24. U moet só maak: onthef al die konings van hulle verantwoordelikhede en stel goewerneurs in hulle plek aan.