1 Konings 18:22-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl.

23. Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie.

24. Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”

25. Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”

26. Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!”Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.

27. Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”

28. Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop.

29. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.

30. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan.Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

31. Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32. Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe.

33. Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout.

34. Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.”Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen.Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak.

35. Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.

36. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen.

1 Konings 18