19. Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het.
20. Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
21. Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri.
22. Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword.
23. In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa.
24. Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg.
25. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers.
26. Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het.
27. Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
28. Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.
29. Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer.
30. Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers.
31. Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid.
32. Hy het 'n altaar vir Baäl opgerig by die Baälstempel wat hy gebou het in Samaria.