24. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.
25. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgetrek.
26. Hy het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.
27. Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het.
28. Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe.
29. Die ander verhale oor Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
30. Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.
31. Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.