1 Konings 14:13-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy sal ook die enigste van die familie van Jerobeam wees wat in 'n graf kom, want in die huis van Jerobeam het die Here die God van Israel net in hom iets goeds gevind.

14. “Die Here sal self 'n koning oor Israel aanstel wat die geslag van Jerobeam dadelik, sonder versuim, sal uitroei.

15. So sal die Here Israel tref soos vloedwater riet tref. Die Here sal Israel uitdryf uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle voorvaders gegee het, en Hy sal hulle anderkant die Eufraat verstrooi omdat hulle gewyde pale gemaak het en die Here daarmee uitgetart het.

16. Hy sal hulle prysgee oor die sonde wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het.”

17. Toe het Jerobeam se vrou teruggegaan Tirsa toe. Net toe sy oor die drumpel van die paleis stap, het die kind gesterf.

18. Hulle het hom begrawe, en die hele Israel het oor hom gerou. Dit was in ooreenstemming met wat die Here gesê het deur sy dienaar die profeet Agija.

19. Die ander verhale oor Jerobeam, oor sy oorloë en sy regering, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

20. Die duur van Jerobeam se koningskap was twee en twintig jaar. Hy is oorlede, en sy seun Nadab het hom as koning opgevolg.

21. Rehabeam seun van Salomo was intussen koning van Juda. Rehabeam was een en veertig toe hy koning geword het en hy was sewentien jaar koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou.

22. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en deur die sondes wat hulle gedoen het, het hulle die Here meer uitgetart as wat hulle voorvaders gedoen het.

23. Hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

24. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.

25. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgetrek.

26. Hy het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.

1 Konings 14