12. Hy vra hulle toe: “Met watter pad het hy teruggegaan?” want hulle het gesien watter pad die man van God wat van Juda af gekom het, gevat het.
13. Hy sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.”Nadat hulle dit gedoen het, is hy met die donkie daar weg
14. agter die man van God aan. Toe die óú profeet die man van God kry waar hy onder 'n groot boom sit, sê hy vir hom: “Is jy die man van God wat van Juda af kom?”“Ja,” antwoord hy.
15. Die óú profeet sê toe vir hom: “Kom tog saam met my huis toe en kom eet iets.”
16. Maar hy antwoord: “Ek kan nie saam met jou teruggaan en in jou huis ingaan nie. Ek mag by jou in hierdie plek niks eet en geen water drink nie,
17. want die woord van die Here aan my was uitdruklik: Jy mag daar geen kos eet en geen water drink nie, en jy mag nie terugkom met dieselfde pad as dié waarmee jy gegaan het nie.”
18. Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook 'n profeet net soos jy, en 'n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!”Maar die óú profeet het vir hom gelieg.
19. Toe gaan hy saam met die óú profeet terug huis toe en daar het die man van God iets geëet en water gedrink.
20. Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die woord van die Here gekom tot die profeet op wie se versoek die man van God omgedraai het.
21. Die profeet het vir die man van God wat van Juda af gekom het, gesê: “So sê die Here: Omdat jy jou teen die Here verset het en nie die bevel van die Here jou God gehoorsaam het nie,
22. maar teruggekom het en geëet en water gedrink het in dié plek waar die Here jou verbied het om te eet en water te drink, daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.”
23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet die man van God wat hy laat omdraai het, se donkie opgesaal.