Romeine 2:13-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word.

14. Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ’n wet, al het hulle geen wet nie;

15. omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,

16. in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.

17. KYK, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God,

18. en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word,

19. en jy is oortuig dat jy ’n leidsman is van blindes, ’n lig vir die wat in duisternis is,

20. ’n opvoeder van onverstandiges, ’n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het —

21. jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy?

22. Jy wat sê dat ’n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ’n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof?

23. Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?

24. Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster.

25. Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy ’n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword.

26. As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie?

27. En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis ’n oortreder van die wet is nie?

28. Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;

29. maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Romeine 2