Romeine 15:1-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.

2. Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting.

3. Want ook Christus het Homself nie behaag nie, maar soos geskrywe is: Die smaadhede van die wat U smaad, het op My geval.

4. Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

5. En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,

6. sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

7. Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God.

8. En ek sê dat Jesus Christus ’n dienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig;

9. en dat die heidene ter wille van sy barmhartigheid God kan verheerlik, soos geskrywe is: Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing.

10. En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met sy volk;

11. en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke.

12. En Jesaja sê ook: Die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop.

13. En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

14. MAAR ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan.

15. Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan julle te skrywe, broeders, as een wat julle herinner, kragtens die genade wat my deur God gegee is

16. om ’n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ’n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees.

17. Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God.

18. Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie — om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad,

19. deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum;

Romeine 15