4. Daarop sê die Here vir Gídeon: Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan — dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie — dié mag nie gaan nie.
5. Hy bring toe die manskappe af na die water; en die Here sê vir Gídeon: Elkeen wat met sy tong die water oplek soos ’n hond lek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant.
6. En die aantal van die wat gelek het met hul hand na hul mond toe, was driehonderd man; en al die ander manskappe het op hulle knieë vooroor gebuig om water te drink.
7. Toe sê die Here vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan.
8. Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe; maar die driehonderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete onderkant hom in die laagte was.
9. En daardie nag het die Here vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand.
10. En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe
11. en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was.
12. En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte.
13. En toe Gídeon aankom, vertel ’n man aan ’n ander juis ’n droom en sê: Kyk, ek het ’n droom gehad: Daar rol ’n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar!
14. En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee.
15. Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want die Here gee die laer van die Midianiete in julle hand.
16. En hy het die driehonderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee
17. en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak.
18. En as ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas rondom die hele laer, en julle moet sê: Vir die Here en vir Gídeon!