Rigters 21:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. MAAR die manne van Israel het al in Mispa gesweer en gesê: Niemand van ons mag sy dogter aan ’n Benjaminiet as vrou gee nie.

2. En toe die manskappe in Bet-el kom, het hulle daar gebly tot die aand toe voor die aangesig van God en hulle stem verhef en geween met ’n groot geween

3. en gesê: Waarom, o Here, God van Israel, het dit in Israel gebeur dat daar vandag een stam uit Israel vermis word?

4. Daarop het die manskappe die volgende dag vroeg klaargemaak en daar ’n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring.

5. En die kinders van Israel het gesê: Wie is daar van al die stamme van Israel wat nie opgegaan het na die vergadering, na die Here toe nie? Want daar was ’n plegtige eed teen die een wat nie opgaan na die Here in Mispa nie — hy moet sekerlik gedood word.

6. Toe het die kinders van Israel hulle broer Benjamin jammer gekry en gesê: Daar is vandag een stam uit Israel afgesny.

7. Wat kan ons doen vir hulle wat oorgebly het, wat vroue aanbetref? Want ons het by die Here gesweer dat ons nie van ons dogters aan hulle as vroue sal gee nie.

8. Toe sê hulle: Wie is diegene wat van die stamme van Israel nie opgegaan het na die Here in Mispa nie? En kyk, niemand het uit Jabes in Gílead na die laer, na die vergadering gekom nie.

9. En die volk is getel, en daar was niemand van die inwoners van Jabes in Gílead nie.

10. Toe stuur die vergadering daarheen twaalfduisend man uit die dapper manne en gee hulle bevel en sê: Gaan heen en slaan die inwoners van Jabes in Gílead met die skerpte van die swaard, ook die vroue en die kinders.

11. En dit is die ding wat julle moet doen: Alles wat manlik is, en al die vroue wat die gemeenskap met die man ken, moet julle met die banvloek tref.

12. En hulle het onder die inwoners van Jabes in Gílead vierhonderd meisies aangetref, jongmeisies wat geen gemeenskap met ’n man gehad het nie, en dié het hulle na die laer gebring in Silo wat in die land Kanaän lê.

13. Toe stuur die hele vergadering en hulle spreek met die kinders van Benjamin wat by die rots Rimmon was, en bied hulle die vrede aan.

Rigters 21