Númeri 11:19-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie —

20. ’n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die Here wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?

21. Toe sê Moses: Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ’n hele maand lank eet!

22. Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?

23. Maar die Here sê vir Moses: Sou die hand van die Here te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.

24. Toe het Moses uitgegaan en die woorde van die Here aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan.

25. Daarop het die Here neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.

26. Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus — hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie — en hulle het in die laer geprofeteer.

27. Toe hardloop ’n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer.

28. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit!

29. Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die Here maar profete was, dat die Here sy Gees oor hulle mag gee!

30. Daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel.

31. Toe het ’n wind wat van die Here kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ’n dagreis hier en omtrent ’n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.

32. Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel. Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel. En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer.

33. Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die Here alreeds teen die volk ontvlam het, en die Here het onder die volk ’n baie groot slagting teweeggebring.

34. Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was.

35. Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.

Númeri 11