Nehemía 9:26-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.

27. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat dié hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het Ú uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos.

28. Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.

29. En U het hulle gewaarsku om hulle na u wet terug te bring, maar hulle het vermetel gehandel en nie geluister na u gebooie nie, en teen u verordeninge, daarteen het hulle gesondig, waarvan geld dat ’n mens dit moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en hulle het ’n wederstrewige skouer gegee en hulle nek verhard en nie geluister nie.

30. En U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.

31. Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ’n genadige en barmhartige God.

32. Onse God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gering wees voor u aangesig nie wat ons, ons konings, ons owerstes en ons priesters en ons profete en ons vaders en u hele volk oorgekom het van die dae van die konings van Assur af tot vandag toe.

Nehemía 9