32. TOE kom hulle in ’n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid.
33. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word.
34. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak.
35. En toe Hy ’n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan.
36. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.
37. En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie?
38. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
39. Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde.
40. En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie.
41. En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars.
42. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.
43. EN dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom ’n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge.