26. En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.
27. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.
28. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.
29. En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.
30. Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
31. Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.
32. TOE kom hulle in ’n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid.
33. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word.
34. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak.
35. En toe Hy ’n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan.
36. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.