1. EN die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak.
2. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ’n oproer onder die volk kom nie.
3. EN toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou met ’n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit.
4. En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind?
5. Want dit kon vir meer as driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar.
6. Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het ’n goeie werk aan My gedoen.