Markus 10:40-52 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

40. maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is.

41. En toe die tien dit hoor, begin hulle verontwaardig te word oor Jakobus en Johannes.

42. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen;

43. maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.

44. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees.

45. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

46. EN hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ’n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.

47. En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!

48. En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!

49. Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.

50. En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe.

51. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabboeni, dat ek mag sien.

52. En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.

Markus 10