13. Toe roep Pilatus die owerpriesters en die owerstes en die volk bymekaar en sê vir hulle:
14. Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie;
15. ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.
16. Nadat ek Hom dan gekasty het, sal ek Hom loslaat.
17. En hy was verplig om vir hulle op die fees een los te laat.
18. Maar die hele menigte skreeu en sê: Weg met Hom, en laat vir ons Barábbas los!
19. Dié was oor ’n sekere opstand wat in die stad plaasgevind het, en oor ’n moord in die gevangenis gewerp.
20. Daarop spreek Pilatus hulle weer toe, omdat hy Jesus wou loslaat;
21. maar hulle het aangehou roep en sê: Kruisig, kruisig Hom!
22. En vir die derde keer sê hy vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.
23. Maar hulle het aangehou met ’n harde geroep en geëis dat Hy gekruisig moes word; en hulle geroep en dié van die owerpriesters het die oorhand gekry.
24. Toe gee Pilatus uitspraak dat aan hulle eis voldoen moet word.
25. En hy het die een vir hulle losgelaat wat oor opstand en moord in die gevangenis gewerp was, die een wat hulle geëis het. Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer.
26. EN toe hulle Hom weglei, neem hulle ’n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27. En ’n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het.
28. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;
29. want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
30. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!
31. Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!