Lukas 23:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die hele menigte van hulle het opgestaan en Hom na Pilatus gelei.

2. En hulle het Hom begin beskuldig en sê: Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.

3. Toe vra Pilatus Hom en sê: Is U die Koning van die Jode? En Hy antwoord hom en sê: U sê dit.

4. En Pilatus sê vir die owerpriesters en die skare: Ek vind geen skuld in hierdie man nie.

5. Maar hulle het aangehou en gesê: Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Judéa deur, vandat Hy in Galiléa begin het tot hiertoe.

6. En toe Pilatus van Galiléa hoor, vra hy of die man ’n Galiléër is.

7. En nadat hy verneem het dat Hy uit die magsgebied van Herodes was, stuur hy Hom na Herodes wat self ook in daardie dae in Jerusalem was.

8. En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.

9. En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.

10. En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het Hom heftig staan en beskuldig.

11. En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom ’n blink kleed om en stuur Hom terug na Pilatus.

12. En Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap teenoor mekaar.

Lukas 23