Lukas 21:4-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.

5. EN toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy:

6. Hierdie dinge wat julle sien — daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.

7. En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?

8. En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.

9. En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.

10. Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.

11. En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.

12. Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.

13. En dit sal vir julle uitloop op ’n getuienis.

14. Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie.

15. Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.

16. Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak.

17. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.

18. En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.

19. Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

20. EN wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.

Lukas 21