Lukas 11:35-48 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

35. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.

36. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.

37. EN onderwyl Hy besig was om te spreek, het ’n sekere Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan.

38. En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie.

39. Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.

40. Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?

41. Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.

42. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

43. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte.

44. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is soos grafte wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.

45. Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir Hom: Meester, as U só spreek, beledig U ons ook.

46. En Hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie.

47. Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood.

48. Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.

Lukas 11