32. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier!
33. EN niemand steek ’n lamp op en sit dit in ’n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.
34. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.
35. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
36. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.
37. EN onderwyl Hy besig was om te spreek, het ’n sekere Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan.
38. En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie.
39. Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.
40. Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?
41. Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.
42. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
43. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte.