2. of as iemand enigiets aanraak wat onrein is — die aas van ’n onrein wilde dier of die aas van onrein vee of die aas van onrein gedierte wat rondkruip — en dit vir hom verborge was, maar hy onrein geword het en skuldig is;
3. of as hy iets onreins van ’n mens aanraak — volgens al die onreinheid waardeur hy hom kan verontreinig — en dit vir hom verborge was, maar hy dit te wete gekom het en skuldig is;
4. of as iemand sweer terwyl hy onverskillig met die lippe praat om kwaad of goed te doen — volgens alles wat ’n mens met ’n eed onverskillig kan praat — en dit vir hom verborge was, maar hy dit te wete gekom het en skuldig is aan een van hierdie dinge;
5. as hy dan aan een van hierdie dinge skuldig is, moet hy bely waar hy teen gesondig het,
6. en as boete vir die sonde wat hy gedoen het, aan die Here ’n ooi bring van die kleinvee, ’n skaaplam of ’n bok, as sondoffer. En die priester moet vir hom versoening doen weens sy sonde.
7. Maar as hy nie ’n stuk kleinvee kan bekostig nie, moet hy as boete vir wat hy gesondig het, twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here bring, een as sondoffer en een as brandoffer;
8. en hy moet hulle na die priester bring, wat dié een eerste moet offer wat as sondoffer bedoel is, en sy kop vlak voor sy nek afknyp sonder om dit af te trek.
9. Dan moet hy van die bloed van die sondoffer teen die kant van die altaar sprinkel; maar wat oorbly van die bloed, moet aan die onderkant van die altaar uitgedruk word; dit is ’n sondoffer.
10. En die ander een moet hy as brandoffer volgens voorskrif berei. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens die sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.
11. Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer vir wat hy gesondig het, die tiende van ’n efa fynmeel as sondoffer bring. Hy moet geen olie daarop gooi en geen wierook daar byvoeg nie, want dit is ’n sondoffer.
12. En hy moet dit na die priester bring, en die priester moet daar ’n handvol van neem as die gedenkoffer en dit op die altaar oor die vuuroffers van die Here aan die brand steek; dit is ’n sondoffer.
13. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het in enigeen van hierdie gevalle, en dit sal hom vergewe word; verder behoort dit aan die priester net soos die spysoffer.
14. OOK het die Here met Moses gespreek en gesê: