13. In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
14. Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
15. volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar ’n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;
16. volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste.
17. Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die Here julle God.
18. En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.
19. En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.
20. En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? —
21. dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.
22. En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet.
23. DIE grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.
24. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat.
25. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.
26. En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing,
27. moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan.
28. Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.
29. En as iemand ’n woonhuis in ’n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; ’n jaar lank moet daar reg van lossing wees.
30. Maar as dit nie gelos word voordat ’n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie.
31. Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word.