1. VERDER het die Here met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:
2. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die Here.
3. Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
4. maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die Here; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.
5. Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet ’n jaar van rus vir die land wees.
6. En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef,
7. en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.
8. Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou negen-en-veertig jaar is.
9. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ’n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan.
10. En julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.
11. ’n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie.
12. Want dit is ’n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.
13. In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
14. Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
15. volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar ’n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;
16. volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste.