28. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was — sodat die Skrif vervul sou word — het Jesus gesê: Ek het dors!
29. En daar het ’n kan vol asyn gestaan; en hulle het ’n spons met asyn gevul en op ’n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring.
30. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
31. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was — want die dag van daardie sabbat was groot — het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.
32. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was;
33. maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie.
34. Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.
35. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo.
36. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie.
37. En weer sê ’n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het.
38. EN ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem.
39. En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met ’n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig.