Johannes 19:25-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdaléna.

26. En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun!

27. Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.

28. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was — sodat die Skrif vervul sou word — het Jesus gesê: Ek het dors!

29. En daar het ’n kan vol asyn gestaan; en hulle het ’n spons met asyn gevul en op ’n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring.

30. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

31. En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was — want die dag van daardie sabbat was groot — het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.

32. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was;

33. maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie.

34. Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.

Johannes 19