26. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.
27. Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom.
28. Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe ’n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.
29. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag gewees het. Ander het gesê: ’n Engel het met Hom gespreek.
30. Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.
31. Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.
32. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.
33. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.
34. Die skare antwoord Hom: Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?
35. En Jesus sê vir hulle: Nog ’n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie.