Johannes 11:38-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

38. En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ’n spelonk, en ’n steen het daarteen gelê.

39. Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.

40. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?

41. Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het;

42. en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.

43. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!

44. En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.

45. EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.

Johannes 11