36. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!
37. En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?
38. En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ’n spelonk, en ’n steen het daarteen gelê.
39. Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.
40. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?
41. Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het;
42. en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.
43. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!
44. En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.
45. EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.
46. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.
47. En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? — want hierdie man doen baie tekens.
48. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.