6. sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die Here, en daar is geen ander nie;
7. wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die Here, is dit wat al hierdie dinge doen.
8. Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit. Ek, die Here, het dit geskape.
9. WEE hom wat met sy Formeerder twis — ’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!
10. Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë?
11. So sê die Here, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
12. Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.
13. Ek het hom verwek in geregtigheid, en al sy weë sal Ek gelykmaak; hý sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die Here van die leërskare.
14. So sê die Here: Die opbrings van Egipte en die handelswins van Kus en die Sabeërs, manne van hoë gestalte, sal na jou toe oorkom en joue wees; hulle sal agter jou loop; in kettings sal hulle oortrek en hulle voor jou buig; hulle sal jou smeek en sê: Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer nie!
15. Waarlik, U is ’n God wat U verborge hou, die God van Israel, die Heiland.
16. Hulle het beskaamd gestaan en ook in die skande gekom, hulle almal; hulle het tesame met skande heengegaan — die wat afgode maak.
17. ISRAEL word verlos deur die Here met ’n ewige verlossing; julle sal nie beskaamd staan of in die skande kom tot in alle ewigheid nie.
18. Want so sê die Here, wat die hemele geskape het — Hy is God! — wat die aarde geformeer en dit gemaak het — Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word — Ek is die Here, en daar is geen ander nie.