19. maar jý is gewerp, ver van jou graf, soos ’n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas.
20. Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie.
21. Maak ’n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die wêreld vol stede maak nie.
22. So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die Here van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die Here.
23. En Ek sal dit ’n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die Here van die leërskare.
24. DIE Here van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand: