15. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.
16. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,
17. leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.
18. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
19. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
20. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die Here het dit gespreek.
21. Ag, hoe het die getroue vesting ’n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!
22. Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water.
23. Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.
24. Daarom spreek die Here Here van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande!