6. Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die Here.
7. Daarom, so sê die Here van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk?
8. Hulle tong is ’n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.
9. Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die Here. Of sou my siel hom nie wreek op ’n nasie soos hierdie een nie?
10. Ek sal geween en geklaag aanhef oor die berge en ’n klaaglied oor die weivelde van die woestyn; want hulle is verwoes, sodat niemand daar deurtrek nie, en ’n mens hoor geen geluid van vee nie; die voëls van die hemel sowel as die diere — hulle het gevlug, weggetrek.
11. En Ek sal Jerusalem maak tot kliphope, ’n lêplek van jakkalse; en die stede van Juda sal Ek ’n woesteny maak, sonder inwoner.
12. Wie is die wyse man wat dit kan verstaan? En met wie het die mond van die Here gespreek, dat hy dit kan verkondig? Waarom het die land te gronde gegaan, is dit verwoes soos die woestyn, sodat niemand daar deurtrek nie?
13. En die Here het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie,
14. maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het,
15. daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek gee aan hulle, aan hierdie volk, wildeals om te eet, en Ek laat hulle gifwater drink,
16. en Ek verstrooi hulle onder die nasies wat hulle en hul vaders nie geken het nie, en stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het.
17. So sê die Here van die leërskare: Let op, en roep die klaagvroue, dat hulle kom; en stuur na die wyse vroue, dat hulle kom;
18. en laat hulle gou maak en oor ons ’n weeklag aanhef, sodat ons oë afloop in trane en ons ooglede stroom van water.
19. Want die geluid van weeklag word uit Sion gehoor: Hoe is ons verwoes! Ons het diep in die skande gekom, omdat ons die land moet verlaat, omdat hulle ons wonings omgegooi het.
20. Want hoor, o vroue, die woord van die Here, en laat julle oor opvang die woord van sy mond; en leer julle dogters ’n weeklag en vir mekaar ’n klaaglied.
21. Want die dood het in ons vensters opgeklim, in ons paleise ingekom om die kinders van die straat af uit te roei, die jongmanne van die pleine af.
22. Sê dit: So spreek die Here: En die lyke van die mense sal neerval soos mis op die oop veld en soos gerwe agter die maaier sonder dat iemand dit versamel.