Jeremia 52:7-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. is in die stad ingebreek, en al die krygsmanne het gevlug en in die nag uit die stad getrek deur die poort, tussen die twee mure wat by die koning se tuin is, terwyl die Chaldeërs rondom teen die stad was; en hulle het getrek op pad na die Vlakte toe.

8. Maar die leër van die Chaldeërs het die koning agternagejaag en Sedekía in die vlaktes van Jérigo ingehaal, en sy hele leër is van hom af verstrooi.

9. Toe vang hulle die koning en bring hom op na die koning van Babel, na Ribla, in die land Hamat; en hy het vonnis oor hom uitgespreek.

10. En die koning van Babel het die seuns van Sedekía voor sy oë gedood. En hy het ook al die vorste van Juda in Ribla gedood.

11. En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings geboei; daarna het die koning van Babel hom na Babel gebring en hom in die gevangenis gesit tot die dag van sy dood toe.

12. En in die vyfde maand, op die tiende van die maand — dit was die negentiende jaar van koning Nebukadrésar, die koning van Babel — het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, wat voor die koning van Babel gestaan het, in Jerusalem gekom;

13. en hy het die huis van die Here en die paleis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem en elke groot huis met vuur verbrand.

14. En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het al die mure van Jerusalem rondom omgegooi.

15. En uit die armes van die volk en die deel van die volk wat nog in die stad oor was, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.

16. Maar uit die armes van die land het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers.

17. Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die Here was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die Here was, stukkend gebreek en al die koper daarvan na Babel weggevoer.

18. Ook het hulle weggeneem die potte en die skoppe en die messe en die komme en die rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is.

19. En die owerste van die lyfwag het weggeneem die skottels en die vuurpanne en die komme en die potte en die kandelaars en die rookpanne en die bekers — wat van pure goud en wat van pure silwer was;

20. die twee pilare, die een see en die twaalf koperbeeste daaronder; die afspoelwaentjies wat koning Salomo vir die huis van die Here gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.

21. Wat betref die pilare, agttien el was die hoogte van een pilaar, en ’n lyn van twaalf el kon dit omspan; en sy dikte was vier vinger; dit was hol.

22. En ’n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van een kapiteel was vyf el, met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met granaatjies.

Jeremia 52