Jeremia 39:8-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En die Chaldeërs het die paleis van die koning en die huise van die volk met vuur verbrand; en die mure van Jerusalem het hulle omgegooi.

9. En die deel van die volk wat nog in die stad oorgebly het en die oorlopers wat na hom oorgeloop het, en die deel van die volk wat nog oorgebly het, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer na Babel toe.

10. Maar van die arm mense wat niks gehad het nie, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in die land Juda laat agterbly en aan hulle wingerde en landerye in dié tyd gegee.

11. Maar aangaande Jeremia het Nebukadrésar, die koning van Babel, bevel gegee deur middel van Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, en gesê:

12. Neem hom en hou jou oë oor hom en doen hom geen kwaad nie; maar doen met hom soos hy jou sal sê.

13. Toe stuur Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, en Nebusásban, die rábsaris, en Nergal-Saréser, die rabmag, en al die bevelhebbers van die koning van Babel — hulle het gestuur

14. en Jeremia uit die voorhof van bewaking laat haal en hom oorgegee aan Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, om hom huis toe te bring. So het hy dan onder die volk gebly.

15. Ook het die woord van die Here tot Jeremia gekom, terwyl hy in die voorhof van bewaking opgesluit was, naamlik:

16. Gaan en spreek met Ebed-Meleg, die Kusiet, en sê: So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag.

17. Maar Ek sal jou in dié dag red, spreek die Here; en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie.

18. Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ’n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die Here.

Jeremia 39