Jeremia 38:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE Sefátja, die seun van Mattan, en Gedálja, die seun van Pashur, en Jugal, die seun van Selémja, en Pashur, die seun van Malkía, die woorde hoor waarmee Jeremia die hele volk bly toespreek het, naamlik:

2. So spreek die Here: Wie in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood of die pes, maar wie na die Chaldeërs uitgaan, sal lewe, en sy siel sal vir hom ’n buit wees, en hy sal lewe.

3. So spreek die Here: Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die mag van die leër van die koning van Babel, en hy sal dit inneem.

4. Toe het die vorste aan die koning gesê: Laat hierdie man tog gedood word, want so maak hy die hande van die krygsmanne slap wat in hierdie stad nog oor is en die hande van die hele volk deur sulke woorde tot hulle te spreek; want dié man soek nie die vrede van hierdie volk nie, maar die onheil.

5. En koning Sedekía het gesê: Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie.

6. Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak.

7. En toe Ebed-Meleg, die Kusiet, ’n hofdienaar wat in die paleis van die koning was, hoor dat hulle Jeremia in die put gegooi het — die koning het toe in die Benjaminspoort gesit —

8. het Ebed-Meleg uit die paleis van die koning gegaan en met die koning gespreek en gesê:

9. My heer die koning, hierdie manne het verkeerd gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het; hy sal tog sterwe van honger op die plek waar hy is; want daar is geen brood meer in die stad nie.

10. Toe gee die koning aan Ebed-Meleg, die Kusiet, bevel en sê: Neem hiervandaan dertig manne met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterwe.

11. Daarop het Ebed-Meleg die manne met hom saamgeneem en ingegaan in die paleis van die koning onder die voorraadkamer en daarvandaan verslyte en geskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het.

12. En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen.

13. En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly.

Jeremia 38