14. Want hulle sal ook diensbaar gemaak word deur magtige nasies en groot konings, en Ek sal hulle vergelde ooreenkomstig hul dade en die werk van hul hande.
15. Want so het die Here, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur,
16. dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.
17. En ek het die beker uit die hand van die Here geneem en al die volke laat drink na wie die Here my gestuur het;
18. naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak ’n puinhoop, ’n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is;
19. Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk;
20. en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Áskelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod;
21. Edom en Moab en die kinders van Ammon;
22. en al die konings van Tirus en al die konings van Sidon en al die konings van die kusland wat oorkant die see is;
23. Dedan en Tema en Bus en almal wat die rand van hulle hare wegskeer;
24. en al die konings van Arabië en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;
25. en al die konings van Simri en al die konings van Elam en al die konings van Medië;
26. en al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink.
27. En jy moet vir hulle sê: So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Drink en word dronk en spuug en val neer en staan nie weer op nie weens die swaard wat Ek onder julle stuur.
28. En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die Here van die leërskare: Drink sál julle!
29. Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile — en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die Here van die leërskare.
30. Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die Here sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy ’n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.
31. Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die Here het ’n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose — aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die Here.
32. So sê die Here van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.