Jeremia 23:11-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here.

12. Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here.

13. Ek het wel by die profete van Samaría aanstootlike dinge gesien: hulle profeteer deur Baäl en verlei my volk Israel;

14. maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.

15. Daarom, so sê die Here van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wildeals eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.

16. So sê die Here van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie.

17. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie.

18. Want wie het in die raad van die Here gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor?

19. Kyk, ’n storm van die Here, grimmigheid het uitgegaan, ja, ’n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los.

20. Die toorn van die Here sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan.

21. Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer.

22. Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge.

23. Is Ek ’n God van naby, spreek die Here, en nie ’n God van ver nie?

24. Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die Here. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here.

25. Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!

26. Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart —

27. is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl?

28. Die profeet by wie ’n droom is, laat hom ’n droom vertel; en by wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met die koring te doen? spreek die Here.

Jeremia 23