Jeremia 22:18-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Daarom sê die Here so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of — ag, suster! nie Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of — ag, majesteit! nie.

19. Met ’n eselsbegrafnis sal hy begrawe word — weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af.

20. Klim op die Líbanon en skreeu, en laat in Basan jou stem hoor, ja, skreeu van die gebergte Abárim af, want al jou minnaars is verbreek.

21. Ek het met jou gespreek in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie.

22. Die wind sal al jou herders verstrooi, en jou minnaars sal in gevangenskap gaan; ja, dan sal jy beskaamd staan en in die skande kom weens al jou boosheid.

23. Jy wat sit op die Líbanon, vasgenestel in die seders — hoe sal jy sug as weë oor jou kom, smart soos van een wat baar!

24. So waar as Ek leef, spreek die Here, al was Gonja, die seun van Jójakim, koning van Juda, ’n seëlring aan my regterhand, tog sal Ek jou daar afruk,

25. en Ek sal jou gee in die hand van hulle wat jou lewe soek en in die hand van hulle vir wie jy bang is, naamlik in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van die Chaldeërs.

26. En Ek sal jou wegslinger, saam met jou moeder wat jou gebaar het, na ’n ander land waar julle nie gebore is nie, en daar sal julle sterwe.

27. Maar na die land waar hulle siel na verlang om daarin terug te kom, daarheen sal hulle nie teruggaan nie.

28. Is hierdie man Gonja ’n veragte, verbryselde voorwerp, of ’n ding waar ’n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ’n land wat hulle nie ken nie?

29. o Land, land, land, hoor die woord van die Here!

30. So sê die Here: Skryf hierdie man op as kinderloos, ’n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.

Jeremia 22