Jeremia 17:13-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. o Here, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die Here, die fontein van lewende water, verlaat.

14. Maak my gesond, Here, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.

15. Daar sê hulle vir my: Waar is die woord van die Here? Laat dit tog kom!

16. Wat my aangaan, ek het my nie onttrek om U as herder te volg nie, en die ongelukkige dag het ek nie begeer nie. Ú weet dit. Wat uit my lippe uitgegaan het, was voor u aangesig.

17. Wees my nie tot ’n verskrikking nie; U is my toevlug in die dag van onheil.

18. Laat my vervolgers beskaamd staan, maar laat mý nie beskaamd staan nie; laat hulle verskrik wees, maar laat mý nie verskrik wees nie. Bring oor hulle die dag van onheil, en verbreek hulle met ’n dubbele verbreking.

19. SO het die Here vir my gesê: Gaan staan in die poort van die kinders van die volk, waardeur die konings van Juda ingaan en waardeur hulle uitgaan, ja, al die poorte van Jerusalem;

20. en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en die hele Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte ingaan:

21. So spreek die Here: Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.

22. Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.

23. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard om nie te luister nie en geen tugtiging aan te neem nie.

24. As julle dan aandagtig na My luister, spreek die Here, om geen las deur die poorte van hierdie stad op die sabbatdag in te bring nie en om die sabbatdag te heilig deur daarop géén werk te doen nie,

25. dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en vorste ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle vorste, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem; en hierdie stad sal vir ewig bewoon word.

26. En hulle sal kom uit die stede van Juda en uit die omstreke van Jerusalem en uit die land Benjamin en uit die Laeveld en uit die Gebergte en uit die Suidland, hulle wat brandoffer en slagoffer en spysoffer en wierook aanbring, en lofoffer aanbring in die huis van die Here.

27. Maar as julle na My nie luister om die sabbatdag te heilig nie en om geen las te dra of deur die poorte van Jerusalem op die sabbatdag in te gaan nie, sal Ek ’n vuur in sy poorte aansteek, wat die paleise van Jerusalem sal verteer en nie uitgeblus sal word nie.

Jeremia 17