Hoséa 8:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE basuin aan jou mond! Soos ’n arend skiet dit neer op die huis van die Here! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het.

2. My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U.

3. Israel het die goeie verwerp — die vyand sal hom agtervolg!

4. Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf.

5. Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees?

6. Want dit is ook uit Israel: ’n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word — die kalf van Samaría.

7. Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind.

8. Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is.

9. Want húlle het opgetrek na Assur — ’n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! — hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf.

Hoséa 8