Hebreërs 12:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.

11. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.

12. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;

13. en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

14. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

15. en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

16. Laat niemand ’n hoereerder wees nie, of ’n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

17. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.

18. Want julle het nie gekom by ’n tasbare berg nie en ’n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm

19. en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie —

20. want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ’n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ’n pyl neergeskiet word.

21. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.

Hebreërs 12