Hebreërs 11:13-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

14. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ’n vaderland soek.

15. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.

16. Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.

17. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer,

18. aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek;

19. daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.

20. Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

Hebreërs 11