11. En ’n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie.
12. En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur.
13. En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword.
14. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele.
15. En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders.
16. En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir ’n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem.
17. En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met ’n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte,
18. totdat daar ’n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie.
19. Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.
20. In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg;
21. en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak.
22. En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.
23. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek;
24. en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan.
25. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.
26. En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan?
27. Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as ’n owerste en regter oor ons aangestel?
28. Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie?
29. En Moses het op hierdie woord gevlug en ’n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het.
30. En toe veertig jaar verby was, het ’n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van ’n doringbos.
31. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom: