Handelinge 25:11-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser!

12. Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep — na die keiser sal jy gaan!

13. EN ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet.

14. En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is ’n man deur Felix as gevangene agtergelaat,

15. teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, ’n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.

16. En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.

17. Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring.

18. Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie,

19. maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor ’n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.

20. En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan;

21. maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.

22. En Agríppa sê vir Festus: Ek sou self ook graag die man wil hoor. Toe antwoord hy: Môre sal u hom hoor.

23. Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.

24. Toe sê Festus: Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie.

25. Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.

Handelinge 25