Handelinge 20:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom waar ons sewe dae deurgebring het.

7. En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.

8. En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het.

9. En ’n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in ’n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel.

10. Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom.

11. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ’n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek.

12. En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos.

13. Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan.

14. Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom.

15. En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom.

16. Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.

17. EN van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep.

18. En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het

Handelinge 20