19. EN dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.
20. En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het.
21. En Isak het die Here gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die Here het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.
22. En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die Here te raadpleeg.
23. En die Here het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
24. En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ’n tweeling in haar skoot.
25. En die eerste is gebore — rooi, geheel en al soos ’n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.