Eségiël 36:7-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Daarom, so sê die Here Here, hef Ek my hand op: Waarlik, die nasies wat rondom julle is — hulle sal hul smaad dra.

8. Maar julle, o berge van Israel, sal jul takke gee en jul vrugte dra vir my volk Israel; want hulle koms is naby.

9. Want kyk, Ek kom na julle en wend My na julle toe, en julle sal bewerk en besaai word.

10. En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word.

11. Ja, Ek sal mense en diere op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees; en Ek sal julle laat bewoon soos in jul voortyd en aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae, en julle sal weet dat Ek die Here is.

12. En Ek sal mense op julle laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal vir hulle ’n erfenis wees en hulle verder nie meer kinderloos maak nie.

13. So spreek die Here Here: Omdat hulle vir julle sê: ’n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak —

14. daarom sal jy nie meer mense opeet en jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here Here.

15. En Ek sal nie meer teen jou laat hoor die skimp van die nasies nie, en die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie; en jy sal jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here Here.

16. Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

17. Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid.

18. Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het.

19. En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge.

20. En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die Here, en hulle moes uit sy land uittrek.

21. Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het.

Eségiël 36