Eségiël 29:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. daarom, kyk, Ek het dit teen jou en teen jou strome; en Ek sal Egipteland ’n volkome puinhoop maak, ’n wildernis van Migdol af tot by Siëne, en tot by die grens van Kus.

11. Geen mens se voet sal daar deurgaan nie, en geen dier se poot sal daar deurgaan nie, en dit sal veertig jaar lank onbewoond wees.

12. En Ek sal Egipteland ’n wildernis maak tussen verwoeste lande in, en sy stede sal ’n wildernis wees tussen verwoeste stede in, veertig jaar lank; en Ek sal die Egiptenaars verstrooi onder die nasies en hulle versprei in die lande.

13. Want so sê die Here Here: Aan die einde van veertig jaar sal Ek die Egiptenaars versamel uit die volke waarheen hulle verstrooi was.

14. En Ek sal die lot van die Egiptenaars verander en hulle laat teruggaan na die land Patros, na die land van hulle oorsprong; en daar sal hulle ’n koninkryk van geringe betekenis wees.

15. En dit sal geringer wees as die ander koninkryke en hom nie meer bo die nasies verhef nie; en Ek sal hulle klein maak, sodat hulle nie heers oor die nasies nie.

16. En dit sal vir die huis van Israel geen voorwerp van vertroue meer wees, wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring as Israel omdraai agter hulle aan nie; en hulle sal weet dat Ek die Here Here is.

17. En in die sewen-en-twintigste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

18. Mensekind, Nebukadrésar, die koning van Babel, het sy leër ’n swaar diens teen Tirus laat verrig: elke hoof het kaal geword en elke skouer is seer geskaaf. Maar hy en ook sy leër het van Tirus geen loon ontvang vir die krygsdiens wat hy daarteen verrig het nie.

19. Daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek gee Egipteland aan Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal die rykdom daarvan wegdra en die buit daarvan buitmaak en die roof daarvan rowe, en dit sal die loon vir sy leër wees.

20. As sy arbeidsloon waar hy voor gedien het, gee Ek hom Egipteland, omdat hulle vir My gewerk het, spreek die Here Here.

21. In dié dag sal Ek vir die huis van Israel ’n horing laat uitspruit, en Ek sal vir jou opening van die mond gee onder hulle; en hulle sal weet dat Ek die Here is.

Eségiël 29